1 Die Naam in kleinletters Johan van Zyl Die debakel oor kleinletters Hierdie is n aktuele onderwerp wat in die jongste tyd kop uitgesteek het. Dit val saam met aankondigings dat n nuwe Bybelvertaling in Afrikaans binnekort die lig gaan sien. Inderdaad word beplan om die volledig vertaalde Bybel in 2016 uit te gee. Baie gelowiges is van mening dat die kwessie van kleinletters versus hoofletters nie werd is om aan die groot klok gehang te word nie. Ongelukkig is ander gelowiges weer hoogs ontsteld hieroor en soek antwoorde. Hierdie artikel probeer die kwessie opklaar, al is dit net deels. Daar is verwante besware wat nie met hoofletters/kleinletters te make het nie, maar eerder met vertaling. Die debakel het só begin: Terwyl die werk aan die vertaling van die 2016-Bybel steeds aan die gang is, het dit reeds uit proefvertalings uitgelek dat kleinletters gebruik gaan word wanneer verwys word na die Messias wat sou kom. Nie almal wat dit gehoor het, het met hierdie besluit van die vertalers genoeë geneem nie. Beswaarskrifte is opgestel en baie gou het die getal name van mense wat die beswaarskrifte ondersteun, begin toeneem. In so n beswaarskrif word beweer dat Jesus Christus in die nuwe vertaling as n gewone mens uitgebeeld word. Só word geskryf: Dit is nodig om teen die Nuwe Afrikaanse 2016-Bybelvertaling op te tree. Dié vertaling omskryf Jesus Christus as n gewone mens. Dit word beplan dat alle hoofletters van die Godheid uitgehaal gaan word. Dit is die doel van die Satan om die outoriteit van Jesus te verneder. Natuurlik vra mens jouself af: Is hier gronde om beswaard te voel? Is hier n dwaalleer wat ingekruip het om die inhoud van die nuwe vertaling onder verdenking te plaas? Is daar nou rede om die teologiese integriteit van die geleerde vertalers in twyfel te trek? Belangriker nog vir ons: Hoe moet gelowiges in Christus hulself posisioneer wanneer die kwessie in die media en in gesprekke te berde gebring word? Dit is nie die eerste keer dat Bybellesers in Suid-Afrika beswaar teen n nuwe vertaling in Afrikaans aanteken nie. Dink terug aan die jare nadat die 1983-vertaling verskyn het. Baie mense het gesê hulle hou nie daarvan nie, dit klink te platvloers. Hulle verkies die 1953-vertaling. Dit is ook wáár met betrekking tot die Bybel in ander tale. So word geskryf: New translations are sometimes roundly criticized by traditionalists and conservatives as taking too many liberties or not being Bible enough. Dis belangrik om in ag te neem dat die beswaarskrifte nie net op die 2016-vertaling fokus nie, maar ook op die bestaande 1983-vertaling.
2 Hierdie beswaargeskiedenis noop mens om te vra: Hoekom lyk dit asof daar n amper natuurlike of outomatiese teenkanting of wantroue teen nuwe Bybelvertalings bestaan? Ons ondersteun so graag die menings van mense wat die bestaande orde wil handhaaf, en dit geld nie net vir vertalings nie. Dink maar aan die kwessie van die beker versus die kelkie by die nagmaal, die preekstoel versus n platform, kleredrag in die kerk tydens eredienste, die streng liturgie versus n gemakliker gesprekstyl. Tradisionaliste en konserwatiewes, is dit nie maar hoe ons is nie? Die eerste vertalings Die eerste vertalings van die Bybel was uit die Hebreeuse taal. Eers was daar die Septuagint, die Griekse vertaling van die Bybel, wat omtrent drie eeue voor die geboorte van Jesus gedoen is. n Ander vertaling was die Vulgaat, n Latynse vertaling, gedoen deur ene Jerome. Jerome (c.347-420) se eerste pogings is gebaseer op die aanvoorwerk gedoen deur Origen (184-253). Om en by die jaar 393 het Jerome besluit hy wil Hebreeuse tekste as brontekste gebruik, en nie die Griekse vertalings daarvan nie. Die kerkvader Augustinus het beswaar gemaak en beweer dat Jerome n wig gaan inslaan tussen lesers en onmin gaan veroorsaak; die Griekssprekende Christene in die Ooste is gewoond aan die skryfstyl van die Septuagint en sal nie die skryfstyl van die Hebreeuse bronskrifte aanvaar nie, al meen die vertaler dit is meer akkuraat. Maar Jerome het deurgedruk en sy vertaling in 405 voltooi. Alhoewel die Rooms-Katolieke Kerk tevrede was met die Vulgaat het hulle oor baie eeue heen n verbod op die verdere vertaling van die Bybel in volkstale geplaas. Hulle het volstaan met Latyn as die taal wat in die kerk gebruik word, al was dit n feit dat die Vulgaat slegs deur hoogs geleerde mense verstaan is. Bybelverspreiding onder die gewone mense is óf nagelaat óf verbied. In England was dit streng verbode om die Bybel in die volkstaal te vertaal. Dié verbod is streng gehandhaaf deur mense soos Kardinaal Wolsey en Sir Thomas More in n poging om die groei te verhoed van wat hulle genoem het English Lutheranism. Die akademikus en teoloog John Wyclif het die oortuiging aangehang dat die Bybel in die volkstaal uitgegee moes word, en hy het n paar van sy volgelinge aangevuur om die Latynse Vulgaat in Engels te vertaal. Die Wyclif-Bybel het aan die einde van die 1300 s verskyn. Hierdie vertaling was baie gewild onder edelliede asook onder die gewone mense. Wyclif was gelukkig genoeg om vervolging vry te spring. Meer as n eeu later was daar nog steeds n verbod op die vertaling van die Bybel in Engels. Wyclif-Bybels is deur die owerhede opgekoop met die uitsluitlike doel om dit te verbrand. William Tyndale was die eerste Engelsman om n Engelse vertaling uit die oorspronklike Hebreeus en Grieks aan te durf. Vir sy moeite oor baie jare van skrifnavorsing en vertaling is hy in die jaar 1536 op n aanklag van kettery tereggestel.
3 Vertalers was verstaanbaar baie bang vir vervolging. Die kerk het n verbod geplaas op die verspreiding van Engelse Bybels. Mense wat in besit van so n Bybel betrap is, is swaar gestraf selfs met die dood. Waarom sou die kerk so n heksejag gevoer het teen die vertaling? Die antwoord is interessant: Volgens hulle is die Germaanse tale (o.a. Engels, Duits, Nederlands) deurspek met woorde uit die Germaanse (heidense) godsdiens. Om die Heilige Woord van God uit die verhewe Latyn te vertaal in n vuil Germaanse taal wat met heidense woorde deurspek was, is as n gruweldaad beskou die werk van die duiwel self en was dus totaal onaanvaarbaar. Dit het vir die kerk aan die absurde gegrens. Die eerste Bybelvertaling in Nederlands, uit die oorspronklike Hebreeuse, Aramese en Griekse tale, was die Statenvertaling of Statenbijbel, wat vir die eerste keer in 1637 uitgegee is. Dit is die Bybel wat in 1652 saam met Jan van Riebeeck in sy skepe na die suidpunt van Afrika gekom het en wat tydens die Groot Trek in die wakis gelê het. In 1872 (235 jaar later) het dr. Arnoldus Pannevis daarop gewys dat die Nederlandse Statevertaling vir die eenvoudiger gedeelte van die bevolking n geslote boek geword het omdat hulle dit nie meer verstaan het nie. Dit moes in Afrikaans vertaal word om dit toegankliker te maak. Uit korrespondensie wat daarop gevolg het, het dit egter geblyk dat die meeste mense sterk gekant was teen 'n Bybelvertaling in Afrikaans. Tog het die eerste Afrikaanse Bybel in 1933 uit die Statebybel voortgekom, en die ouer mense onder ons sal kan onthou dat daar maar baie teenkanting teen n Bybel in die kombuistaal van die Afrikaner was. Die 1933-vertaling is in 1953 hersien, en eers in 1983 het daar n geheel nuwe vertaling gekom, maar dié keer direk uit die brontale. Weer was daar uiteenlopende menings oor hierdie vertaling, en baie mense het uitgesproke laat weet dat hulle steeds die ou vertaling gaan gebruik omdat hulle aan die skryfstyl gewoond geraak het. Tydens enige vertaling van die Bybel het die vertalers met netelige probleme te make. Een hiervan is met betrekking tot die eienaam van God. Die Nederlandse Statenbijbel was al volledig vertaal gewees met die uitsondering van een item, te wete die naam van God, en daaroor moes hulle toe nog besluit. Ook tydens die vertaling van die Afrikaanse Bybel het hierdie aspek baie aandag gekry. Totius was n voorstander van die gebruik van Jahweh as naam vir God. Die Jode gebruik Jahweh, die Islamiete Allah en die Romaanse volkere Dios (Spaans), Dieu (Frans) en Dio (Italiaans) afkomstig van Adonai as naam vir God. Uiteindelik is besluit om nie n eienaam te kies nie, maar om die neutrale terme God, Vader en Heer te aanvaar as naam vir die Opperwese. Jakob en die gestuurde van God n Ander probleem waarvoor vertalers te staan gekom het, is die gebruik van hoofletters om wesens van n Goddelike aard te beskryf, bv. die Engel van die Here. Aanvanklik het hulle hoofletters gebruik. Gen. 32:24-30 in die 1933/53-vertaling is n goeie voorbeeld: Maar Jakob het alleen agtergebly, en n Man het met hom geworstel tot dagbreek.
4 En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën. En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob. Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin. Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën. Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered. Kyk die deurgaanse gebruik van hoofletters om die gestuurde wese reeds vanuit die staanspoor van die gebeure te beskryf. As Jakob vir n oomblik gedink het dat dit n Engel van die Here was, of God self, sou hy hom nie dadelik oorgegee het en in aanbidding neergeval het nie? Hy het nie op daardie stadium kon dit vir hom n rower gewees het wat hom aanval, want hy het n gewone man gesien. Hy het daarvolgens opgetree. Eers aan die einde van die worsteling het hy verstaan wat gebeur het. Kan dit beskou word dat die gebruik van hoofletters in die eerste deel van die gebeure verwarrend is? Lees tuis dieselfde gedeelte in die 1983-vertaling om die kleinletterweergawe van hierdie gebeure in Genesis te sien. (Dieselfde weergawe gaan in die 2016-vertaling verskyn.) Lei dit tot n verbetering in die verstáán van die teks? Tog word daar in n beswaarskrif na hierdie 1983-teks verwys as sou God deur die kleinletters geminag word. Die beswaardes beweer: Die Man (soos dit met n hoofletter geskryf word) is die Engel van die Here, deur wie Jesus in die Ou Testament verskyn het. Dit is waarom dit in hoofletters is. Dit was nie n gewone man nie, want in vers 30 word daar na God verwys. Die 1983-vertaling verwys sommer na n gewone man, wat deur Jakob as jy en jou aangespreek word. Let op die klein letters. God word hierdeur geminag. Besluit self of kleinletters in hierdie gedeelte sou kon bydra dat veral jonger lesers, vir wie die Ou Testamentiese geskiedenis nie óórbekend is nie, die gebeure in n meer verstaanbare konteks sal inneem. God se seun Nog n probleem vir die vertalers ontstaan waar die Nuwe Testament n dieper betekenis gee aan dele van die Ou Testament deur dit op n later stadium te verklaar of te openbaar. Moet daar dus reeds in die Ou Testament hoofletters gebruik word terwyl die betekenis van die profesie nog nie openbaar is nie? n Goeie voorbeeld word gevind in Hos. 11:1 (1933/53 asook 1983-vertaling): Toe Israel n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.
5 Let daarop dat die woord seun met n kleinletter geskryf word. In die 1933-vertaling is dit reeds so geskryf. Dit verwys sonder enige twyfel na die twaalf stamme van Israel wat deur Moses uit Egipte gelei is. Dit is die gewone betekenis in die konteks van Hos. 11:1. Volgens Matt. 2:15 bevat Hos. 11:1 egter n profesie wat verwys na die kind Jesus se terugkeer uit Egipte saam met Josef en Maria ná die dood van Herodes: En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep. Let op die hoofletter Seun. Is dit sinvol indien iemand sou aandring dat die woord seun in Hos. 11:1 ook met n hoofletter gedruk behoort te word as n verwysing na Christus? Sal die gebruik van n hoofletter lei tot n verlies van die gewone betekenis van die profesie in die konteks van Hos. 11:1? Dit is hoekom die woord seun in Hos. 11:1 met n kleinletter gedruk is, en daar word beplan om dit in die 2016-vertaling ook so te druk. Ter wille van ons oortredinge Kyk as n laaste voorbeeld na die baie bekende Jesaja 53. In Jes. 53:4, 5 (Ou Vertaling) staan daar: Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Wie is dié Hy wat met hoofletters aangedui word? Bybelkommentare verklaar dat dit dui op Israel in ballingskap. Daar kon net sowel gestaan het: Maar Israel is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Israel verbrysel Israel ly ter wille van die wêreld God se kinders ly sodat die wêreld gesond kan word. God se ballingskapvolk neem die gestalte van n dienskneg aan. Ons kon nie vrede hê, ons kon nie genesing ervaar, ons kon nie in n verhouding met God tree voor God nie sy volk gestraf het nie. So kom die wêreld tot n begrip van God se straf. Maar dit eindig nie daar nie. Daar is n verlossingsplan, n plan van redding deur genade alleen! Deur n dienskneg, n weerlose en uitgelewerde dienaar, kan God sy doel met die wêreld bereik. Moet die nuwe vertaling oral hoofletters gebruik en vir die leser die ontdekkingservaring ontneem? Of moet die vertaling dit vir die leser moontlik maak om n Wow -ervaring te hê wanneer hy in die Nuwe Testament lees dat Christus by uitstek die Dienaar is wat die sonde van die wêreld dra en die straf ongedaan maak?
6 Ter wille van konsekwentheid is dus besluit dat hoofletters nie in die 2016-vertaling gebruik word nie, veral waar die Messiaanse Jesus ter sprake kom. Slot Let op dat hoofletters net in ons 1933- en 1953-vertalings voorkom. Kleinletters by Hy en Hom in Messiaanse verband word gebruik in, onder andere, die King James Bible, New International Version, Good News Translation, English Standard Version, Contemporary English Version, The Message, American Standard Version, The Net Bible, New Century Version, New Jerusalem Bible, New Living Translation en 1890 Darby Bible. Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika stel dit in sy reaksie op die beswaarskrifte pertinent en dringend dat die beoogde Bybelvertaling nie die Godheid van Christus ontken nie. *****