LEWENSENTRUM GEMEENTE MEI 2016 EIS JOU NUWE GEBOORTES OP N FLIEKAAND MET N VERSKIL DIE BELANGRIKHEID VAN DIE REGTE KLERE MEIMAAND IS GEBEDSMAAND BY PLS KANTLYNE WAT BETEKEN HEMELVAART VIR JOU? N LIG WAT BRAND IN DIE KAAP ALBERTON VAALDRIEHOEK OOSRAND WESRAND PRETORIA KAAP NOORDKUS
ALBERTON Andries Enslin EIS JOU NUWE GEBOORTES OP Ons praat die afgelope 40 dae (ter wille van die Bybelse getal) oor die sirkel van die koninkryk. Hoe lyk die lewe buite die grot? Die pad vir elke Christen wat ernstig is oor groei en verandering na die beeld van Jesus. Die ware jy sal dan ook, meer as een maal in sy, of haar lewe deur die sirkel beweeg. Die spreekwoordelike 40 dae verg baie energie vir die werk wat ons in daardie tyd moet doen. Die werk begin by die keuse om te werk, om skoon te maak, om die reuse in jou lewe aan te vat en te konfronteer. Nog n belangrike werk is die ontdekking van jou nuwe naam. Hosea verander na Josua en Saul na Paulus, ens. Ons het gekyk na pasop vir Emaus, gaan terug Jerusalem toe en moenie Goliat groter maak as wat hy is nie. Simson het ons gewys hoe belangrik blindheid en doofheid is, en die dissipels moes leer om die punte aanmekaar te werk om die volle prentjie te sien. Gedurende Meimaand gaan ons verder in die reeks met die belangrikheid van hemelvaart. Hemelvaart praat van gee jou seer en verlede weg aan God. Laat dit opvaar!! Saam met n weggee loop n nuwe ontvang. Soos jy jou pyn en verlede weggee, ontvang jy altyd iets nuuts. Saam met die dood van die valse self, is daar n geboorte van n nuwe, meer ware jy. In Engels praat hulle van claim your new birth. Ek en jy moet n visie hê van n nuwe jy, n duidelike prentjie van n meer-soos-jesus-jy. Hierdie is nie n prentjie van n superjy soos Superman nie, maar n duidelike prentjie van n meer dienskneg-jy, n meer Jesus-jy. Ons moet hierdie nuwe beeld opeis. Die duiwel wil jou potensiaal en nuwe geboortes steel deur stories, mense, jou verlede, ens. Jy moet jou nuwe geboortes en oorwinnings opeis. Iemand wat in Christus is, is n nuwe mens, die ou dinge is verby!! Leer gedurende Meimaand saam met ons hoe die nuwe lewe in Christus lyk. Andries ANGS: N SIEKTE VAN ONS TYD Angs. Ons almal weet hoe dit voel om senuweeagtig en angstig te voel die vlindergevoel in die maag voor n afspraak, die spanning wanneer jou baas kwaad is en die manier wat jou hart vinnig en harder klop wanneer jy skrik, of in gevaar is. Angs kan help om die situasie die hoof te bied, maar vir mense met n angsversteuring kan hierdie emosies skadelik wees as dit permanent daar is. Angsversteuring Angsversteurings is kort intense tye van verskriklike vrees, saam met fisiese simptome wat jou hart vinnig laat klop, jy mag dalk duiselig, siek, uitasem, en bang voel, jou vingers en bene kan die gevoel van naalde en spelde hê, jy mag dalk ook pyn in die bors ervaar. Dit kan gereeld gebeur, of onverwags, wanneer daar geen rede is vir die vrees en paniek nie. Vermy middels soos kaffeïen, dwelms en alkohol. Wie ly aan angsversteuring? Die versteuring begin gewoonlik as jong volwassene, maar ouer mense en kinders kan ook geaffekteer word. Vrouens word twee maal meer geaffekteer as mans. Die versteuring kan ook oorerflik wees. Simptome: In die begin voel dit asof die angsversteuring uit die bloute kom, terwyl die persoon besig is met n alledaagse aktiwiteit soos om in n voertuig te sit, by die werk te wees, of om inkopies te doen. Simptome van n angsaanval: Gevoel van erge vrees en paniek. n Vinnige hartklop. Borspyne. Duiseligheid, lighoofdigheid. Siekte. Moeilik om asem te haal. Tinteling, of geen gevoel in die hande nie. Warm of koue rillings. Gevoel van voel nie reg nie. Vrees om beheer te verloor, om mal te word, of om iets te doen wat jou in die verleentheid sal stel. Vrees om dood te gaan. Hantering van n angsaanval: Onthou dat alhoewel jou gevoelens en simptome baie skrikwekkend is, dit nie gevaarlik is nie. Verstaan dat dit wat jy voel, slegs jou ligaam se sterk reaksie is op stres. Moenie teen jou gevoelens baklei, of dit wegwens nie. Hoe meer jy bereid is om dit te hanteer, hoe minder vreesagtig sal dit wees. Bly fokus op die hede, waar jy is en wie by jou is.fokus daarop dat jy oor n rukkie weer reg sal voel, dat dit net n tydelike gevoel is. Fokus op die maklike en eenvoudige dinge, praat met n vriend oor die foon, gaan winkels toe, praat met jou buurman of kollegas, konsentreer deur 2 s, agteruit te tel vanaf 100 in of skiet n rekkie teen jou gewrigte om jou terug na die hede toe te bring. Terugslae: As jy na n ruk beter voel en ewe skielik weer n aanval kry, moenie bekommerd wees nie. Jy sal weet wanneer die volgende episode op pad is en jy sal agterkom jy gaan nie dood nie, maar dat jy die angsaanval kan hanteer en daarom hoef jy dit nie te vrees nie. Die tyd tussen die episodes sal langer word en mettertyd sal die angsaanvalle stop. (Artikel ontleen uit SADAG 0800 21 22 23). ALS BELANGRIKE DATUMS 7 Mei Nuwe Lidmatekursus (Voltooi die terugvoerstrokie indien jy belangstel om lidmaat te word) 12 Mei GHOLFDAG 21 Mei Fotografiekursus 17 Mei Ritme 2 24 Mei Ritme 3 31 Mei Rtme 4
REDAKTEUR Stéfan van Niekerk N FLIEKAAND MET N VERSKIL Dis so lekker om te weet dat daar nog goeie, opbouende flieks is om na te kyk wanneer n springmielie-geleentheid hom voordoen, of as n kleingroep saam iets wil kyk. Facing the Giants, Fireproof en Courageous is nou al ou gunstelinge wanneer dit kom by DVD s met n Christelike strekking en boodskap. Nou is daar n paar nuwe sulke flieks wat die wêreld aan die gons het, en wat plaaslik beskikbaar is. God is not dead handel oor n universiteitstudent wat te staan kom teen n professor wat voor die klas verklaar dat God nie bestaan nie. Wanneer die student nie n onderneming wil teken, waarin die professor aandring dat die hele klas onderteken dat God nie bestaan nie, moet hy die bestaan van God met die professor debatteer in n reeks lesings wat hy vir die klas moet aanbied. Op die ou end moet die klas besluit wie hulle dink reg is, en wie nie. Dis n eeue-oue twispunt waarteen Christene te staan kom: die bestaan van God, in gesprekke en debatte met nie-christene daaroor. Alhoewel hierdie maar net n fliek oor die onderwerp is, en nie noodwendig teologies fundeerbaar is nie, is dit n wonderlike manier om mense aan die dink te sit en jou geloof uiteindelik te versterk. Nog n fliek, War Room begin in moeilike omstandighede, met n gesin waar n man en vrou se huwelik deur diep waters gaan. Dan ontmoet die vrou n bejaarde dame wat haar vertel van n kamer in haar huis wat sy spesifiek opsy sit om in te bid, en daar haar oorlog, in gebed teen die bose voer, deur beloftes uit die Skrif (en beantwoorde gebede) neer te skryf en teen die mure aan te bring. En dan begin die vrou so bid! Dit illustreer die krag van gebed, en die nut van so n gebedskamer as hulpmiddel, dat dit n wonderlike plek kan wees om God daagliks te ontmoet en daar die stryd saam met Hom te voer. Dit wys dat so n vertrek nie groot hoef te wees nie - selfs n inloopkas - as dit die enigste plek in jou huis is waar jy stil kan word en van die dag en lewe se geroesmoes kan wegkom vir stiltetyd. Wees op die uitkyk vir n preekreeks oor hierdie oorlogskamer by sekere LewenSentrum-gemeentes. God is not dead (en binnekort ook die opvolg daarvan, God is not dead 2), sowel as War Room en ander Christelik-georiënteerde DVD s. Dit is vermaaklike kykstof, met n opbouende boodskap en is by plaaslike Christelike boekwinkels te koop. Manjefieke jong kunstenaar kom roer Emmanuel-harte Rian Ungerer het die gehoor so met sy pragtige stem en energieke optrede bekoor, dat baie van die lede spontaan hande geklap en saam gesing het. Wat n vreugdevolle oggend toe Rian al singende tussen die tafels deurbeweeg het en die mense n handdruk gegee het. Hy sluit af met n paar gospelliedere. Hy sê: Daar is altyd tyd vir die HERE. Ons sluit die oggend af met heerlike kuier, versnapperings en n ietsie te drinke. Name vir die foto s Voor: Amanda van Rooyen, Mercia Rossouw, Anna van Rensburg, en Annetjie Cooper. Agter: Andries Joubert, George Cooper, Rian Ungerer ( gaskunstenaar), Leza Hyman, Jan Hyman. Hulp met Ritme ALS MINI-MIRACLES LewenSentrum is opgewonde, want dit is weer Mini-Miracle-tyd. Ons leef in n tyd waar soveel mense hulp nodig het. Ons wil jou uitnooi om betrokke te raak by 2016 se uitreik. Ons gaan weer die gemeenskap met Jesus bedien en die grootste voorreg wat ons elkeen het, is om self die geskenk te wees vir hulle wat dit so nodig het. Neem n dag verlof en bied jouself aan as n geskenk uit God se hand. Registreer by die HMR-toonbank. Vir meer inligting, kontak vir Amelia Bester, of Ewald van Heerden by 011 8677244. Hulp met Ritme-groete Ewald van Heerden LEWENSENTRUM
VAALDRIEHOEK Marius Malan DIE BELANGRIKHEID VAN DIE REGTE KLERE Ons is tans besig met ons reeks Oorlogkamer. Ons moet besef daar is n oorlog aan die gang en ons elkeen is opgeroep na die oorlog toe. Ons lees in Efesiërs 6:11-12 dat die oorlog waarna ons opgeroep word nie een is teen vlees en bloed nie, maar eerder teen die magte in die gees. Wanneer mens na n oorlog opgeroep word, is een van die eerste dinge wat jy benodig, gevegsuitrusting. Dit is ook net so met die oorlog waarna die Here ons oproep. Hy gee vir ons oorlogsklere. Ons sien dit in: Efesiërs 6:13-18 (DB) - Dit is die klere wat julle moet aantrek om te keer dat die duiwel iets aan julle doen: die waarheid moet jy soos n belt om jou middel vasbind. Die wete dat God jou van al jou sondes vrygespreek het, moet soos n stuk staal jou bors beskerm. Jy moet altyd gereed wees om vir ander te vertel van die vrede wat Jesus vir ons bring. Dit moet soos die skoene aan jou voete wees. Dan is daar nog jou geloof. Die intieme verhouding met die Here moet soos n skild wees waarmee jy al die giftige aanvalle van die Bose keer en eenkant toe slaan. Jy is nie meer in die kloue van die sonde nie; nee, jy is gered. Dit is soos n ysterhelm wat jou gesig en kop beskerm. Die boodskap van God is soos n swaard wat die Heilige Gees vir jou gee om die stryd mee te voer. Dit maak nie saak wat gebeur nie, julle moet altyd bid. Praat met God en vra Hom wat julle wil weet. Die Heilige Gees sal julle daarmee help. Onthou dit en moenie julle onkant laat vang nie. Wanneer ons klaar die klere gekry het, moet ons by die oorlogskamer bymekaarkom, om die plan van aksie te beplan. Jy gaan nie in n oorlog in sonder n plan nie. Jou oorlogskamer is die plek waar jy God ontmoet en waar Hy Sy wil aan ons bekendmaak. Dit is tyd dat jy jouself aantrek vir die oorlog! Kom ons luister wat God se wil vir ons lewens is, waar ons moet groei en waar Hy ons wil gebruik. Kom ons staan en veg saam. Marius VLS Verwelkom VLS Groet Riaan Pelser Morne Steenekamp Rufus Vermaak Bianca van der Bank VLS BELANGRIKE DATUMS Ritme 2,3 en 4 17,24 en 31 Mei 2016 om 19:00 by die kerk Dina du Toit 083 296 5157 Nuwe Lidmatekursus 14 Mei 2016 Kindertoewyding 22 Mei 2016 tydens oggenddienste
MEIMAAND IS GEBEDSMAAND BY PLS PRETORIA Paul Grobler In die kerk moes jy al die volgende gehoor het; Gebed is die antwoord! Dit klink so geestelik en kerklik, maar wat beteken dit? In eenvoudige taal sê dit dat ons God deel maak van ons lewens deur met Hom te kommunikeer en toe te laat dat Hy terug praat. Nou, die dissipels het op n stadium ook die behoefte ontwikkel om te bid. Hulle vra vir Jesus in Lukas 11:1 om hulle te leer bid. PLS gaan soos wafferse 2016-dissipels ook in Meimaand die Bybel raadpleeg oor hoe en waarvoor om te bid. Ons gaan hierdie groot fokus afskop met n fliekaand op 6 Mei, waar ons War Room gaan vertoon in Laerskool Constantiapark se skoolsaal. Ons eredienste en kleingroepe gaan toegespits wees op die tema van gebed, en na hierdie maand behoort ons as n gemeente geanker te wees in die basiese beginsels van gebed. Daar is soveel rykdom in n gefokusde gebedslewe met n beplande gebedstyd en program - waar ons met passie en erns bid en waar ons ander gebedsvriende innooi ter ondersteuning van mekaar. PLS, maak vas julle sitplekgordels en maak gereed vir n avontuur saam met Jesus! Matteus 7:7-8 - Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Paul Oggendreeks: n Gemeente wat bid Aandreeks: n Lewe saam met die Heilige Gees
OOSRAND Gys Vermeulen KANTLYNE Ons leef in n baie interessante tyd vandag. Ons samelewing moedig goed aan wat tot op die maksimum gedryf word. Van die top programme op ons TV s vandag, is naelbyt realiteitsprogramme, of kanale wat wys hoe mense deelneem aan ekstreme sportsoorte. Ons samelewing komplimenteer mense wat dit vat tot die maksimum. Mense spring van hoër plekke af, klim hoër berge en probeer gevaarliker goed aanvang, want ons wil n groter indruk maak, want die kultuur waarin ons ons vandag bevind, moedig jou aan om goed tot die maksimum te neem. So interessant as wat dit is om na hierdie programme op TV te kyk, is dit nie lekker om te sien hoe n huwelik tot op die maksimum gedryf word en n verhouding uitmekaar val nie. Hoe n tienermeisie in n verkeerde omgewing tot maksimum gedryf word en swanger word nie. Hoe mense finansieël met kredietkaartskuld tot op die maksimum leef om n sekere lewenstandaard in stand te hou en op n dag kom die wiele af en hulle lewens val uitmekaar. Dit is nooit lekker om te sien hoe mense se lewens uitmekaar val, omdat hulle nie hulle dagboeke kon bestuur nie en gedink het hulle moet hulle tyd tot die maksimum volmaak. Dit is nooit lekker om te sien hoe n persoon se lewe gebuk gaan onder die pyn van ek het te ver gegaan nie. Ons is gemaak om binne kantlyne te leef. Kantlyne is belangrik. Kantlyne is vir jou eie beswil. Kan jy dink jy gaan kyk rugby op Loftus en iemand het besluit vandag speel hierdie twee spanne sonder kantlyne. Wat sal gebeur? Dit gaan die spel self beïnvloed. Dit gaan nie lank vat nie, dan het jy chaos op die veld. As daar nie kantlyne is nie, gaan die spelers ook beseer word. Het jy al n boek in die hande gekry wat van die een kant van die bladsy tot teen die ander kant van die bladsy geskryf is? In n boek verwag jy dat daar kantlyne sal wees. Die feit is, sonder kantlyne sou die boek baie korter gewees het. En so werk dit ook by my en jou. Sonder kantlyne word ons lewensboek verkort! God kies om te werk in die kantlyne van ons lewe God werk in die spasie wat oorbly, in die kantlyne van my lewe. As ek kantlyne in my lewe trek, skep ek n ruimte in my lewe waar die Here kan kom werk in my lewe. Daar moet in my tydsbestuur n kantlyn wees waar ek tyd met Hom kan spandeer en in verhouding met Hom kan leef. Daar moet in my finansies n kantlyn wees. Moenie vir jouself sê n 100% van my salaris is myne nie, want dit is nie, en as jy n 100% van jou salaris uitleef, leef jy sonder n kantlyn! Die Here sê 10% is myne. Die feit is die Here wil nie jou geld hê nie. Hy soek n ruimte waarbinne Hy jou kan seën. Daar moet in my huwelik n kantlyn wees. As daar nie n kantlyn is waar jy genoeg tyd maak vir jou huweliksmaat nie, skep jy nie n ruimte waarbinne God in jou huwelik kan werk nie. Het jy kantlyne as dit kom by jou huwelik, finansies, tydsbestuur en jou liggaam? Gys Motorfiets-Aksie OLS se nuutgestigte motorfietsgroep het op Saterdag, 19 Maart 2016 hulle eerste ontbytrit na Cullinan toe aangedurf. Dit het so lekker geraak, daar is terstond op n impromptu rit na die Vaaldam besluit n volle twee dae na die eerste rit! Ons sê dankie vir almal se brandstof, geduld en koffie wat dit moontlik gemaak het. Volgende keer maak ons weer so en swart skopfietsies word dan ook toegelaat!
WAT BETEKEN HEMELVAART VIR JOU? Meimaand is die maand wat Jesus se hemelvaart gevier word. n Besondere dag in die geskiedenis van die Christendom. n Dag van hoop vir dié wat onwrikbaar glo. Glo jy werklik dat die hemelvaart plaasgevind het en wat beteken dit vir jou? Vir baie is dit net NOG n dag op die kalender. Maar vir jou en my behoort dit HOOP te wees! Lukas 24:46-53 Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. Verder sê Hy vir hulle: So staan daar geskrywe: Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder. Julle is getuies van hierdie dinge. En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is. Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys. Vir my was Hemelvaart lank net n vraagteken: Hoekom moes Jesus weggaan? Ek kan my indink dat dit vir die dissipels n tragedie was en n hopeloosheid hulle oorspoel het toe Jesus sterf. Toe weer hoop soos nog nooit vantevore toe Hy opstaan, en 40 dae later Sy hemelvaart was hulle hoopvol, of het hulle weer verslae net na die hemel gestaar hopeloos? Wat beteken hierdie 40 dae na Jesus se opstanding vir jou? Met die sondvloed reën dit vir 40 dae, dan word Noag en sy gesin in n nuwe lewe vrygelaat. Die Israeliete swerf 40 jaar in die Kleingroep-kuier WESRAND Darius Prinsloo woestyn rond, waarna hulle die land Kanaän in besit neem. 40 dae na Jesus se opstanding vaar Hy op na die Vader toe, om te gaan heers aan Sy regterhand. Dit is die finale slag vir Satan, en die hele verlossingsiklus word met hierdie aksie voltooi. Vóór Hy aarde toe gekom het, was Hy in die hemel by God die Vader. Hy verlaat Sy hemelse tuiste ter wille van ons verlossing en nou gaan Hy terug om aan die regterhand van die Vader te gaan sit, waar Hy nou namens ons intree. Laat dit jou nie ook belangrik en spesiaal voel nie? Voel jy nie ook dat jy persoonlik daarby gebaat het dat daar n Hemelvaart was nie? As Jesus nie op n bonatuurlike manier hierdie aarde verlaat het nie, sou ons waarskynlik in sy menslikheid bly vaskyk het. Toe die Heilige Gees uitgestort word, was die hele wêreld met Sy teenwoordigheid bedek. Gelukkig kan ons dit ervaar, en kan ons die werk van die Heilige Gees waarneem - ons sien hoe mense se lewens verander. Terug na my vraag en wat die dissipels moes dink. Die dissipels moes onbeskryflike hoop gehad het, want hulle het só sterk by hulle punt gestaan, dat hulle waarskynlik almal vir hulle geloof gesterf het. Die hemelvaart hét gebeur, net soos die kruisiging en opstanding. Die hemelvaart gee vir ons hoop, en is net so belangrik om te vier en mekaar te herinner aan hierdie belofte dat Hy eendag weer gaan kom, net soos Hy hier weggegaan het, om ons te kom haal (Handelinge 1:9-11). Wat n wonderlike belofte van hoop vir ons! Darius Ons moedig in ons kleingroepe lekker doen-dinge aan, soos om sommer een aand net buite om ʼn vuurtjie te kuier en die gesprek te laat gaan waar heen die Heilige Gees dit stuur. Sit ek nou so n wyle terug een aand by die huis aan t vuur make vir so n ligte braai vir my en vroulief. Wyl die vuurtjie so liggies brand (want ek hou van so n filosofiese vuur, een waarin mens kan tuur en jou gedagtes vêr en wyd laat draai,) gaan staan my gedagtes stil by daardie vuur wat eendag lank gelede op mense neergekom het en hulle gevul het met groot, wonderlike GODdelike krag. Draai my gedagtes terug na ʼn vroeëre keer toe die Heilige Gees ook neergedaal het, of dan uitgestort is op die Een. Daardie keer in die vorm van ʼn duif. Dit sit my toe aan die wonder: duif versus vuur? Dis nou kontrasterend. Toe tref dit my, die duif is tog tekenend van die een wat toentertyd na die ark teruggekeer het met die olyftakkie in die bekkie. Bevryding? Lewe? Nuwe bedeling? Reinheid? Dan is die simboliek van ʼn wit duif, Reinheid? Onbevlektheid? Die Heilige Gees het toe neergedaal, in die vorm van ʼn duif, op die Een mens, Jesus; Rein, Onbevlek, die Prins van Vrede, Nuwe bedeling. Die vuur-keer, was toe op die mense, daardie groep wat Hom verlaat het, ongelowigheid getoon het in Sy opstanding, mens, vol sonde, ongeregtigheid en die lys kan lank raak. Wat simboliseer vuur Louteringsproses, Energie, Verwarming, Koester, Lig en maak maar die lysie. Dan ook daardie vuur in die hart waarna ons so hunker en aan die brand moet wees vir die Een waarop die duif - Gees gaan sit het. Om brandend die wêreld in te gaan en aan almal te gaan vertel om GOD en mens liewer te hê. Wonderlike ding, so ʼn filosofie -vuurtjie waarin mens rustig en vêr kan tuur, stil kan wees en weet... Brand so warm in my, Jesus, dat die mense daardie warm lig kan sien en GOD daarvoor verheerlik. Lees gerus Handelinge 2:42; Matteus 3:16; 1 Petrus 1:7; Genesis 8:11; Matteus 5:16 Christo Ras
KAAP Hugo Weich N LIG WAT BRAND IN DIE KAAP Kaap LewenSentrum se ligte brand al bykans ses maande lank. Ons kan net getuig van God se goedheid en guns wat ons elke dag ervaar. Ons groei mooi in getalle, maar ons groei ook in verhouding en geestelik, want Christus, die Woord, is die sentrale punt waaroor alles gaan. Telkemale, veral op die moeilike dae, was dit juis daardie selfondersoek, daardie dieper vrae oor roeping en ons doel hier in die Kaap, wat ons weer herinner het om weer lig en sout te wees. Wees lief vir God en mense. Dis al! God sal die res doen. Kos is smaakloos sonder sout, of dink aan n lewe sonder ligte? Stel jou voor dat jy vanaand geen lig in jou huis het nie, geen lamp en geen kers nie. Ek kan dink aan die chaos as hier op die hoek van Adderley- en Strandstaat geen verkeerslig is nie, of snags geen ligte op die aanloopbane nie; dat daar nêrens langs ons seekus vuurtorings staan nie; dat jy vannag sonder ligte aan jou motor moet ry en dat n chirurg sonder ligte moet opereer. n Lewe sonder ligte is n gevaarlike lewe, n koerslose lewe, n lewe van botsings en chaos. In ons moderne lewe is ligte gevaartekens, maar ook veiligheidstekens, daarom is n lewe sonder ligte n lewe waarin niemand sy bestemming sal bereik nie. Maar ons bestemming is nie net n plek nie, dit is ook ons wyse van lewe, ons manier van werk, ons houding teenoor ons naaste, ons verhouding met God. En om die rede, sê Petrus, is die Woord van God die lamp wat in n donker plek skyn. Die wêreld om my is n donker wêreld, verward, verwilderd, onstuimig. Die Bybel sê dit is n sondige wêreld. Maar juis in hierdie wêreld is die Woord van God die lig wat skyn, sodat ek my bestemming mag bereik. Daarheen moet ek altyd maar weer teruggaan om koers en rigting te kry. Daar vind ek die lig vir my lewe op n Sondag, maar ook vir my lewe op n Maandag, vir my werk, my speel en selfs my politiek. Die lig verlig my slaapkamer en my sitkamer. Wie wandel in die lig van God se Woord word nie waarsêers nie, hulle kan nie die toekoms voorspel nie en het geen verborge insig in die geheime van dinge nie hulle is maar net mense wat weet dat die duisternis hulle nooit sal oorweldig nie, en dat hulle nooit radeloos langs die pad sal hoef te gaan sit en sê: ons kan nie verder nie. Daarom sal ons by Kaap LewenSentrum altyd voortgaan en voortbou op ons roeping op pad na n bestemming om God en mens nog liewer te hê. Groete Hugo 8 Mei Moedersdag-oggend met Elkan Butler 8 Mei Kamermusiek-aand saam met Elkan Butler en vriende 29 Mei Gemeente-braai WAG IS GROEI Hier in Ballito is die versengende hitte en humiditeit vir eers verby en is die seisoene aan die draai! Soos die seisoene aanbeweeg, so stap ons elkeen se lewe ook op n drafstap aan en het ons almal wonderwerke waarvoor ons bid en in afwagting is. Om te wag op wonderwerke, is om te wag op God. Jy leer wonderlike dinge soos geduld, geloof en volharding daarmeer. Hoe meer jy groei in jou verhouding met God, hoe meer ontvang jy nuwe krag en hoe meer groei jou verhouding met Hom. God maak deure op Sy tyd oop en maak ander toe. Sonder dat ons altyd verstaan waarom en hoekom? Om te wag vir n wonderwerk help jou om te leer en om regtig op God te vertrou! Hy sal dit op die regte tyd in jou lewe laat gebeur, mits jy Hom elke dag eer en prys! Jy word dan n kalm, rustige mens en op n dag besef jy net dat jy op die regte oomblik die regte ding uit God se hand ontvang en die lang verwagte wonderwerke gebeur! Hy sal sorg dat ons wonderwerke op die regte tyd afgelewer sal word. Net so genadig is God met die draai van elkeen van ons se seisoene in ons lewens. Hy weet immers wat ons nodig het. Met ons dun wintersbaadjies aan (want winters is mos nie koud in Ballito nie) stap ons die nuwe seisoen tegemoet. Dit bring nuwe uitdagings... nuwe deure wat oopgaan en n herfokus op die Here. Oë na BO!!!!! NLS Geseënde Ballito-groete Leanie van der Walt