Les 4 *Julie 16 22 Geregtigheid en Genade in die Ou Testament: Deel 2 SABBATMIDDAG Lees vir hierdie week se studie: Eseg. 37:1 14; Ef. 2:10; Eseg. 47:1 8; Matt. 5:16; Op. 22:1, 2; Jes. 61:1 11. Geheueteks: En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe; en daar sal n menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen gekom het; en dié waters sal gesond word, en alles sal lewe waar die stroom kom (Esegiël 47:9). n Woonbuurt wat in die 1950 s en vroeë 1960 s floreer het, het in die laat 1960 s en vroeë 1970 s n oorlogsgebied geword. Die meeste gesinne het weggetrek en n rits verlate en afgebrande huurkamers agtergelaat. Besighede het weggetrek en dwelms en misdaad het die plek daarvan ingeneem, wat die woonbuurt een van die onwenslikste plekke gemaak het. In 1986 verlaat n Christengesin hulle gerieflike huis in n ander voorstad en trek na hierdie vervalle stedelike gebied. n Leraar van n ander stad het hom by hulle aangesluit. Hulle herbou twee afgebrande geboue en omskep dit in hulle wonings. Die twee gesinne bring hulle tyd op straat deur, hulle ontmoet gemeenskapsgroepe en bly in omgang met diegene wat in die area agtergebly het. Hierdie twee gesinne was die katalisator wat God gebruik het om n kerk te begin wat genesing en transformasie na hierdie dooie gemeenskap sou bring. Vandag nog gaan hulle werk en impak voort, en hulle het reeds groot verandering in talle lewens teweeggebring. God het iets te sê aangaande die rol van Sy kerk in hopelose situasies soos hierdie. Hierdie week se les gaan voort om te luister na die koor van stemme uit die Ou Testament wat na God se volk roep om Sy karakter van goedhartigheid aan die wêreld te openbaar. *Bestudeer vandeesweek se les ter voorbereiding vir Sabbat, 23 Julie. 30
Sondag Julie 17 Lewendig in Christus Die genade van God wat herlewing bring aan diegene wat dood is in hulle oortredinge en sonde, word op grafiese wyse in Esegiël 37 geopenbaar. Esegiël, die profeet, word deur die Gees weggevoer na n vallei wat vol dooie, droë en verstrooide bene is. Hierdie bene verteenwoordig die hele Israel. God vra: Mensekind, kan hierdie bene lewendig word? (Eseg. 37:3). Die antwoord op hierdie vraag ontvou soos die profeet aan hierdie bene profeteer. Lees Esegiël 37:1 14. Wat sou God vir hierdie volk van Hom doen? Die uitslag van die boodskap wat aan die droë bene gelewer is, was (1) dat hulle lewendig geword (het) en op hulle voete gaan staan n ontsaglike groot leër! (Eseg. 37:10); (2) God sal Sy volk in hulle eie landstreek vestig (Eseg, 37:14); (3) en hulle sal weet dat dit God is wat dit alles gedoen het (Eseg. 37:14). Maar om herstel te wees, is nie voldoende nie. God se volk word herstel vir n sending, n opdrag. Israel moes n lig vir die nasies wees. Lees Efesiërs 2:10. Waarom word ons weer lewendig gemaak geestelik herskep in Christus? Ons aanvaarding by God is slegs verseker deur Sy geliefde Seun, en goeie werke is maar slegs die gevolg van die werking van Sy sonde-verskonende liefde. Dit is tot geen krediet vir ons nie, en ons het niks wat aan ons verleen kan word vir ons goeie werke waardeur ons n aanspraak kan maak op die verlossing van ons siele nie. Verlossing is God se vrye gawe aan die gelowige, aan hom gegee om Christus se ontwil alleen. Die vermoeide siel mag vrede vind deur geloof in Christus, en Sy vrede sal in die regte verhouding wees met sy geloof en vertroue. Hy kan nie sy goeie werke aanbied as n pleidooi vir die redding van sy siel nie. Maar is goeie werke dan van geen werklike waarde nie? Word die sondaar, wat elke dag straffeloos sondig, dan met dieselfde guns deur God gereken as die een wat deur geloof in Christus n poging aanwend om in sy integriteit te werk? Die Skrif gee die antwoord: Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel (Efe. 2:10). In Sy goddelike plan, deur Sy onverdiende gawe, het die Here dit so georden dat goeie werke beloon sal word. Ons word alleen deur Christus se verdienste aanvaar; en die handelinge van genade, die bewys van weldade, wat ons uitvoer, is die vrugte van geloof. Ellen G. White, Selected Messages, book 3, pp. 199, 200 (vry vertaal). 31
Maandag Julie 18 n Vloeiende Rivier Lees Esegiël 47:1 8. Wat gebeur met die tempel wat Esegiël in n visioen gesien het? Dit blyk dat die tempel n lekplek het. Jy wonder dalk of daar n pyp gebars het, of wat? In hierdie geval was die lekkasie n goeie ding. Hierdie water wat uit die tempel gesyfer het, het na die ooste toe gevloei. Die Soutsee (beter bekend as die Dooie See), is oos van Jerusalem geleë, en is die laagste punt op aarde waar daar n watermassa is. Tussen Jerusalem en die Dooie See is daar n gebied van ongeveer 34 kilometer van woestynlandskap, wat die Araba-vallei insluit, en eintlik bekend staan as die depressie (lae vlakte) van die Jordaan en die Dooie See. Die see is so sout dat niks daarin kan leef nie. Maar, wanneer die water van die tempel dit bereik, word die dooie water van die see genees. Dis n simboliese begrip wat dui op die kerk van God, die tempel (1 Pet. 2:4, 5), wat uitreik en n bron van gesondheid en genesing is vir diegene wat vasgevang is in hulle oortredinge en sonde. Lees Matteus 5:16. Wat sê Jesus hier vir ons aangaande die wyse waarop ons Hom in die wêreld verteenwoordig? Die Zambezirivier in Zambië, Afrika, het sy oorsprong as n vlak spruitjie wat onder n boom uitvloei. Namate dit in die rigting van die Victoria-watervalle vloei, groei dit tot n vlak stroom (enkeldiepte), tot kniediepte, tot heuphoog, en later n rivier, diep genoeg om in te swem. Net so ook, al is dit aanvanklik klein, het die water wat onder die tempel ontspring het, algaande momentum en impak gekry, todat dit n stroom geword het waar ek nie kon deur nie. Die water was diep, sodat n mens sou moes swem (Eseg. 47:5, AFR83). Jou kerk se genesende invloed mag dalk klein begin, maar dit kan groei totdat dit jou gemeenskap transformeer! Ons werk is aan my voorgestel, in die begin, as iets klein, baie klein, n stroompie. Ellen G. White, Testimonies for the Church, vol. 7, p. 171 (vry vertaal). Lig, water albei is beelde wat gebruik word wanneer daar gepraat word oor wat God deur ons kan doen om ander te help. Hoe kan ons beter medewerkers word om aan die behoeftiges te getuig? 32
Dinsdag Julie 19 Die Kerk: n Lewensbron Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees...; Waar die stroom kom, sal alles lewe (Eseg. 47:9, AFR83). Esegiël se profesie illustreer dat waar die rivier vanuit God se kerk vloei, daar lewe sal wees. Esegiël 47:10 voeg by tot die wonderbaarlikheid van dit alles. Wat n vreemde gesig sal dit nie wees nie: op die walle van n massa water, wat daarvoor bekend is dat daar geen vis in leef nie, word dit meteens n plek waar vissermanne hulle nette uitgooi omdat so baie vis daar gevang word. Die hele punt van hierdie saak is dat wanneer die krag van God in Sy mense werksaam is, kan lewe ontstaan waar dit nooit voorheen bestaan het nie. Waar God aan die werk is, is daar nie meer n hopelose situasie nie, en geen groep mense is buite die bereik van verlossing nie, en geen oorerflikheid van n ongelukkige verlede hoef ons te verdoem tot n toekoms van wanhoop nie. The Interpreter s Bible, (Nashville: Abingdon Press, 1956), vol. 6, p. 328 (vry vertaal). God se onbeskryflike groot genade doen wonderlike dinge vir enigeen wat dit wil aanvaar. Hier het ons weer die boodskap van die evangelie. Deur ons kan God hoop bied aan diegene wat mismoedig, wanhopig, verdor en sterwend is, beide geestelik en fisiek. Vergelyk Esegiël 47:12 met Openbaring 22:1, 2. Wat vertel hierdie twee gedeeltes jou aangaande die uiteindelike bestemming van diegene wat genees en lewend gemaak is deur Jesus deur middel van Sy kerk? Een dag sal God se mense insluitend die lede van die gemeenskap wat God genees en lewend gemaak het deur die onselfsugtige werk van die kerklidmate op die nuwe aarde wees, waar n ander rivier is, een wat uitvloei vanaf die troon van God. Daar sal geen woestyne, geen droogte, of dood wees nie. In die tussentyd terwyl ons wag op daardie wonderlike werklikheid wil God hê dat Sy kerke plekke moet wees waarvandaan daar genesing en oorvloedige lewe na die gemeenskap toe vloei. Hy wil deur ons werk om die woestyne, lae vlaktes, en Dooie Seë in ons gebiede te omskep sodat hulle oorvloedige lewe in Jesus kan hê (Joh. 10:10); die algehele Adventisteboodskap in n neutedop. Die profeet Amos beskryf n soortgelyke prentjie as in Esegiël 47. Lees Amos 5:24. Hoe vergelyk hierdie beeld met die rol wat jou kerk in julle gemeenskap vervul? Op watter tasbare wyses is jou kerk n genesende rivier daar? 33
Woensdag Julie 20 Jubileum-Beloftes Die Ou Testament is gevul met die idee dat diegene wat geseënd is met materiële dinge, asook op geestelike gebied, diegene sal bereik wat nie so bevoorreg is nie. Lees Jesaja 61:1 11. Wat sê God hier aan Sy volk, en hoe kan ons dit toepas op onsself en op ons roeping voor die Here? Lees ook Lukas 4:18. Jesaja 61 begin met n verklaring dat die Gees van die Here deur die Gesalfde Een werksaam is om die goeie nuus aan dié in nood te verkondig, die moedeloses op te beur, en vrylating aan te kondig vir die gevangenes, en bevryding vanuit duisternis en wanhoop aan die wat opgesluit is (Jes. 61:1). Al die elemente van hierdie belofte het hulle vervulling in die jaar van die Here se guns. Die jaar van die Here se guns is n verwysing na die Genadejaar, wat ons reeds gesien het wat gevul is met die implikasies van die noodsaaklikheid om in die behoeftiges se nood te voorsien. Daarom, die treurendes in Sion ontvang eer, die bedroefdes wat sieraad vir as kry, en vreugde-olie vir treurigheid, n gewaad van lof vir n verslae gees - (Jes. 61:3) is juis hulle wat die ou puinhope en verwoeste plekke uit vroeëre dae sal opbou en nuutmaak. Diegene wat geseënd is deur die messiaanse jubileum word die transformeerders van die gemeenskap, en hulle maak die verwoeste stede weer nuut (Jes. 61:4). God se diensknegte word priesters en dienaars genoem, en word onderhou deur die rykdom van die omliggende nasies (Jes. 61:5, 6). Die beeld wat ons hier in Jesaja 61 sien van die Gesalfde Een wat die omliggende volke transformeer deur die voorspoed van diegene wat in n verbond met Hom staan (Jes. 61: 8, 9), is van toepassing op diegene, vandag, wat geroep is om priesters en dienaars in gemeenskappe reg rondom die wêreld te wees. Behoort dieselfde transformerende invloed van hierdie profesie nie ook gevoel te word in ons wonderlike arbeid in die Here nie? Ons moet bly wees in die Here, beklee met klere van heil en geregtigheid, te midde van ons gemeenskappe (Jes. 61:10, 11). Lees Jesaja 61:9. Wat n kragtige getuienis is dit nie oor wat God vir Sy volk doen nie? Kan dieselfde ding vandag van ons gesê word? Waarom, of waarom nie? 34
Donderdag Julie 21 Die Kerk n Agent vir Verandering Lees Miga 6. Waarteen spreek die Here Hom hier uit? Miga sluit by die ander profete van die Ou Testament aan wat dit benadruk dat eksterne vorme van godsdiens, wat mank gaan aan die nederige en uitdruklike totstandkoming van geregtigheid en genade, nooit aanvaarbaar vir n regverdige en genadige God sal wees nie. Wat is die lewensnoodsaaklike boodskap van Miga 6:8? Ware godsdiens is prakties. Om seker te wees, sluit dit die gebruike en seremonies van die kerk in, maar... dit is nie soseer n weerhouding van kos as wat dit is om voedsel met hongeriges te deel nie. Praktiese goddelikheid is die enigste soort godsdiens wat deur die regbank van God erken word (Matt. 25:34 46). Ellen G. White, The SDA Bible Commentary, vol. 4, p. 306 (vry vertaal). Vandag nog verwerp God voortdurend die afvalligheid van n eksterne godsdiens wat praktiese goddelikheid (soos in Miga 6:8) uitsluit. Ons godsdiensvorms is op sigself nie die doel nie; hulle is n middel tot n doel, en daardie doel is Christus, wat in ons geopenbaar moet word. In die inleiding tot hierdie week se les het ons twee gesinne ontmoet wat in n hopelose gemeenskap ingetrek het om in hulle behoeftes te voorsien. Die twee gesinne het n klein groepie in een van hulle sitkamers gestig met nuwe vriende van die woonbuurt. Die lede van hierdie nuutgestigte groepie het in alle erns gebid dat God aan hulle sou toon hoe om die gemeenskap te laat herleef. Hulle het met n Christelike ontwikkelingsagentskap saamgespan en begin om vrywilligers te werf om die verslete huurkamers rondom hulle weer op te bou. Indien jy vandag hierdie gemeenskap sou besoek, sal jy n vooruitstrewende nuwe gemeenskap daar aantref wat soveel beter doen as voorheen. Dit het n werklikheid geword omdat n klein kerkie bereid was om Jesus se liefde op n praktiese wyse uit te dra en dit het die verandering in die gemeenskap teweeggebring. Hierdie werk is n bewys van die uiters praktiese en kragtige wyse waarop Christus aan die werk is deur Sy mense, en die wyse waarop Hy Sy mense bereik deur uit te reik en ander te ondersteun. Al praat God met Sy volk as n geheel, is die jou in vers 8 in die enkelvoud. God praat persoonlik met elkeen. Hoe goed openbaar jy, persoonlik, wat die Here hier sê as goed? 35
Vrydag Julie 22 Vir verdere studie: Lees Jer. 22:1 16; Eseg. 16:49; Sag. 7:9, 10. Lees Ellen G. White Comments, pp. 1165, 1166, in The SDA Bible Commentary, vol. 4; God s Design in Our Sanitariums, pp. 227, 228, in Testimonies for the Church, vol. 6. Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God? (Miga 6:8). Hoeveel duideliker kan die Here in hierdie opsig wees oor wat Hy van Sy volk vra? God wys aan ons wat goed is, en hierdie goed is dieselfde woord wat oor en oor in Genesis 1 gebruik word waar dit verwys na die presondeval Skepping. Daarom word ons dus eintlik terugverwys na die ideaal, na dit wat God oorspronklik vir ons beplan het, en uiteindelik, waartoe Hy ons sal herstel nadat Jesus se wederkoms plaasgevind het. Hierdie frase vertaal as wat vra die Here van jou kan dalk ook (en miskien meer korrek) vertaal word as wat soek die Here van jou. Daarom, wat soek God van ons, Sy verloste volk wat deur die genade van Christus bedek is? Die antwoord word aangedui in die wyse waarop ons met ander en God in n verhouding staan. Eerstens moet ons regverdig handel en optree. Dit is so gepas in die lig van die temas van hierdie kwartaal se lesse; hoe help ons diegene wat dikwels hulpelose slagoffers van ongeregtigheid is? Tweedens, ons moet die genade liefhê. Ons leef in n genadelose wêreld. Wat n kragtige getuienis sal ons kan wees indien ons die genade liefhet, en dit uitdra deur liefde aan ander? Derdens, ons moet nederig voor God wandel. Indien die Here in Miga 6:4 hulle terugverwys na bevryding uit slawerny in Egipte as n rede vir hulle om nederig en getrou voor Hom te wees, hoeveel te meer is dit nie vandag op ons van toepassing nie? Ons is immers verlos deur die bloed van Jesus! Die realiteit van die kruis, en wat dit gekos het om ons te verlos, behoort ons altyd nederig voor God te stem. Vrae vir bespreking: 1. Watter teksgedeeltes uit die Ou Testament kan jy vind wat praat van ons verpligting teenoor die behoeftiges? 2. In Amos 5, veral verse 21 24, vind ons sterk woorde oor die godsdienstige mense in die tyd van Amos, en oor hoe God meer belangstelling daarin getoon het oor die wyse waarop ander behandel word as in die godsdienstige rituele wat Hyself ingestel het? Wat behoort dit ons te vertel oor waar ons klem moet lê? 3. Hoe moet ons waaksaam wees teen die gevaar om so opgeneem te word in mense se materiële behoeftes, dat ons hulle geestelike behoeftes verwaarloos? Hoe tref mens die korrekte balans tussen ons begeerte om aan die minderbevoorregtes te getuig, en die behoeftiges onder ons? 36
Notas