GRKS 312 'n Sosio-historiese skets van die tussen-testamentêre periode Die invloed van die tydperk tussen die Ou- en Nuwe-Testament op die wêreld waarin Christus geleef het Marnix Boersema 22145079 5/2/2012
1. Voorgestelde titel en sleutelterme NAVORSINGSVOORLEGGING n Sosio-historiese skets van die tydperk tussen die Ou- en Nuwe-Testament 2. Oriëntering en probleemstelling 2.1. Oriëntering Die tydperk tussen die Ou- en Nuwe-Testament is n tyd waaraan daar min aandag geskenk word. Om te verduidelik waarom die kennis oor hierdie tydperk nodig is, sou 'n mens kon verwys na die uitbreek van 'n oorlog. Daar is bepaalde faktore wat lei tot spanning tussen spesifieke persone of nasies om watter rede ook al, wat uiteindelik n dramatiese effek het. Behalwe die magstryd, is daar nog onder andere kulturele en geografiese faktore wat ook 'n groot effek het op die uitkoms van hierdie oorlog. By die studie van so 'n oorlog is die verstaan van hierdie faktore vanselfsprekend noodsaaklik. Die Nuwe-Testament is nie maar net nog 'n verhaal nie. Dit is geskiedenis wat ook vertel van 'n oorlog. 'n Oorlog tussen die koninkryk van Christus en van Satan. Dit vertel van 'n geestelike oorlog, waarin mense geestelik en fisies betrokke was (en steeds is). Aangesien hierdie oorlog plaasgevind het in hierdie wêreld, gee die verstaan van die sosio-historiese feite 'n beter perspektief en uitleg van die Nuwe- Testament. Social history...touches on, and arguably helps to focus, major issues of public debate (Samuel, 2012). Die Bybel is egter op so 'n besondere wyse deur die Gees saamgestel, dat die kennis van die sosio-historiese feite hoegenaamd geen verskil maak aan die essensie van die boodskap van Christus nie. 2.2. Probleemstelling Die volgende vrae sal nagevors en beantwoord word: As die sosio-historiese konteks van die tydperk net voor die Nuwe-Testament geen verskil maak aan die essensie van die Christus-boodskap nie, waarom is dit nodig om enigsins aandag daaraan te gee? Wat is die mees invloedryke (ten opsigte van kultuur) gebeurtenisse van die tussen-testamentêre tydperk? Hoe het die tussen-testamentêre periode die sosiale (kulturele) en historiese aspekte beïnvloed voor die koms van Christus? 2
3. Doelstelling en doelwitte 3.1. Doelstelling Die oorkoepelende doelstelling van hierdie studie is om 'n sosio-historiese agtergrond te skets waarteen die Nuwe-Testament afgespeel het 3.2. Doelwitte Die spesifieke doelwitte van die studie is: Om die belang van die sosio-historiese konteks van die tussen- Testamentêre periode uit te lig en duidelik te maak. Om die mees invloedryke gebeurtenisse van die tydperk tussen die Ou- en Nuwe-Testament te bestudeer en die kulturele invloed daarvan duidelik te maak. Om die uiteindelike effek van die gebeurtenisse in die tussen-testamentêre periode op die wêreld waarin Christus geleef het uit te lig. 4. Sentrale teoretiese argument Die sosio-historiese konteks van die tussen-testamentêre periode verander nie dit wat Christus verkondig het nie, maar verduidelik waarom hy dit op 'n spesifieke manier en met bepaalde metodes aangepak het. Die sentrale teorietiese argument is dus dat dit noodsaaklik is om die tydperk tussen die Ou- en Nuwe-Testament te ken om 'n wyer beeld te skep van die wêreld waarin Christus geleef het. 5. Metodologie Hierdie studie word aangepak vanuit 'n Gereformeerde tradisie. In die beantwoording van die verskillende navorsingsvrae, word die volgende metodes gebruik: Om die belang van die sosio-historiese konteks van die tussen- Testamentêre periode uit te lig en duidelik te maak, word 'n litteratuurstudie gedoen om standpunte in die verlede en die hede te beoordeel. Om die mees invloedryke gebeurtenisse van die tydperk tussen die Ou- en Nuwe- Testament te bestudeer en die invloed daarvan duidelik te maak, word 'n literatuurstudie gedoen om historiese feite weer te gee. Om die uiteindelike effek van die gebeurtenisse in die tussen-testamentêre periode op die wêreld waarin Christus geleef het uit te lig, word daar na bepaalde teksgedeeltes en voorbeelde vanuit die Skrif verwys. 3
6. Voorlopige hoofpuntindeling 1. Inleiding 2. Die belang van die sosio-historiese konteks van die tussen-testamentêre periode 3. Die mees invloedryke tussen-testamentêre gebeurtenisse en hul invloed op die kultuur 4. Die effek van die tussen-testamentêre periode op die wêreld van Christus 7. Verwysings 1. SAMUEL, R. 2012. What is social history? http://www.historytoday.com/raphaelsamuel/what-social-history. 7 Mei 2012. 8. Skematiese voorstelling van die korrelasie tussen punt 2,3 en 5 Probleemstelling Doelstelling en doelwitte Metodologie Die oorkoepelende doelstelling van hierdie studie is om 'n sosiohistoriese agtergrond te skets waarteen die Nuwe- Testament afgespeel het Watter sosio-historiese invloed het die tussen- Testamentêre periode op die wêreld waarin Christus geleef het? Waarom is aandag aan die sosio-historiese konteks van die tussen-testamentêre periode nodig? Om die belang van die sosiohistoriese konteks van die tussen- Testamentêre periode uit te lig en duidelik te maak. Hierdie studie word aangepak vanuit 'n Gereformeerde tradisie. 'n Litteratuurstudie word gedoen om standpunte in die verlede en die hede te beoordeel. Wat is die mees invloedryke (ten opsigte van kultuur) gebeurtenisse van die tussen-testamentêre tydperk? Hoe het die tussen- Testamentêre periode die sosiale (kulturele) en historiese aspekte beïnvloed voor die koms van Christus? Om die mees invloedryke gebeurtenisse van die tydperk tussen die Ou- en Nuwe-Testament te bestudeer en die kulturele invloed daarvan duidelik te maak. Om die uiteindelike effek van die gebeurtenisse in die tussen-testamentêre periode op die wêreld waarin Christus geleef het uit te lig. 'n Literatuurstudie word gedoen om historiese feite weer te gee. Daar word na bepaalde teksgedeeltes en voorbeelde vanuit die Skrif verwys. 4
INHOUDSOPGAWE 1. Inleiding 1.1. Agtergrond 1.2. Probleemstelling 1.3. Sentrale teoretiese argument 2. Die tydperk en sosio-historiese belang van die tussen-testamentêre periode 2.1. Die tydperk van die studie 2.2. Die belang van die tussen-testamentêre tyd 3. Invloedryke gebeurtenisse en denkstrome voor Christus se koms 3.1. Aleksander die Grote en Hellenisme 3.2. Die Makkabeërs 3.3. Die Fariseërs 3.4. Romeinse verowering 4. Die effek van die tussen-testamentêre periode op die wêreld van Christus 4.1. Die kindermoord as moontlike gevolg van Herodus se ongewildheid 4.2. Die Herodiane en Fariseërs het Jesus as gemeenskaplike viand 4.3. Christus tree nie soos die Makkabeërs op nie 4.4. Die ontheiliging van die tempel word van Christus verwag 4.5. Christendom en die Hellenistiese denkstrome 5. Gevolgtrekking 5
1. Inleiding Die doel van hierdie werkstuk is om 'n agtergrond van die wêreld waarin Jesus Christus geleef het met die tussen-testamentêre tyd te skets. Later sal die relevansie van hierdie studie ook aangetoon word aan die hand van n paar praktiese voorbeelde uit die Bybel. 1.1. Agtergrond Die tydperk tussen die Ou- en Nuwe-Testament is n tyd waaraan daar min aandag geskenk word. Om te verduidelik waarom die kennis oor hierdie tydperk nodig is, sou 'n mens kon verwys na die uitbreek van 'n oorlog. Daar is bepaalde faktore wat lei tot spanning tussen spesifieke persone of nasies, om watter rede ook al, wat uiteindelik n dramatiese effek het. Behalwe die magstryd, is daar nog onder andere kulturele, politiese en geografiese faktore wat ook 'n groot effek het op die uitkoms van hierdie oorlog. By die studie van so 'n oorlog is die verstaan van hierdie faktore vanselfsprekend noodsaaklik. Die Nuwe-Testament is nie maar net nog 'n verhaal nie. Dit is Godsgeskiedenis wat ook vertel van 'n oorlog. 'n Oorlog tussen die koninkryk van Christus en van Satan. Dit vertel van 'n geestelike oorlog, waarin mense geestelik en fisies betrokke was (en steeds is). Die hoogtepunt van hierdie oorlog is die oorwinning die koms van Jesus Christus. Daarom gaan daar in hierdie werkstuk spesifiek gefokus word op die sosio-historiese belang van die tydperk tussen die Ou- en Nuwe-Testament. 1.2. Probleemstelling Die Bybel is op so 'n besondere wyse deur die Gees saamgestel, dat die kennis van die sosiohistoriese feite hoegenaamd nie die voorwaarde vir geloof is nie. 'n Sosio-historiese studie van die tussen-testamentêre periode kan egter die wêreld waarin Christus geleef het, tot n mate groter oopbreek. Die volgende vrae sal aandag geniet: As die sosio-historiese konteks van die tydperk net voor die Nuwe-Testament geen verskil maak aan die essensie van die Christus-boodskap nie, waarom is dit nodig om enigsins aandag daaraan te gee? Wat is die mees invloedryke (ten opsigte van kultuur) gebeurtenisse van die tussen-testamentêre tydperk? Hoe het die tussen-testamentêre periode die sosiale (kulturele) en historiese aspekte beïnvloed voor die koms van Christus? 6
1.3. Sentrale teoretiese argument Social history...touches on, and arguably helps to focus, major issues of public debate (Samuel, 2012). n Sosio-historiese studie verskaf meer historiese, kulturele en politiese feite wat positief aangewend kan word tot n beter verstaan van Christus se werk op aarde. Die sosio-historiese konteks van die tussen-testamentêre periode verander nie dit wat Christus verkondig het nie, maar verduidelik waarom hy dit op 'n spesifieke manier en met bepaalde metodes aangepak het. Die tussen-testamentêre denkstrome het waarskynlik die wêreld waarin Christus geleef het radikaal verander. Die sentrale teorietiese argument is dus dat dit noodsaaklik is om die tydperk tussen die Ou- en Nuwe-Testament te ken om 'n wyer beeld te skep van die wêreld waarin Christus geleef het. 2. Die tydperk en sosio-historiese belang van die tussen-testamentêre periode 2.1. Die tydperk van die studie Dit is moeilik om 'n spesifieke tydsbestek vir die die tussen-testamentêre periode te bepaal, omdat daar nie presiese datums vasgestel kan word vir die jongste boek van die Ou- Testament nie. Dit word algemeen aanvaar dat die boek Daniël, wat teen ongeveer 164vC geskryf is, die laaste boek van die Ou-Testament is (Vosloo & van Rensburg, 1993:1354). Die boeke Esra en Nehemia vertel egter ook van belangrike gebeurtenisse wat verband hou met die tussen-testamentêre tyd. Hierdie boeke is om en by 400vC geskryf (Vosloo & van Rensburg, 1993:1354). Die datum van Christus se kruisiging is ook onseker en het moontlik tussen 27-33nC plaasgevind (Vosloo & van Rensburg, 1993:1447). Die datum vir Christus se kruisiging wat uit Ramsundar se studie na vore kom, naamlik 28nC (Ramsundar, s.a.:10), gaan vir die doel van hierdie werkstuk gebruik word. Die tydsbestek, argumentsonthalwe, is dus 400vC - 28nC; om en by 430 jaar. 2.2. Die belang van die tussen-testamentêre tyd Die tussen-testamentêre periode is van belang, aangesien dit 'n agtergrond skets waarteen die lewe van Christus uitgebeeld word (in onder andere die Sinoptiese evangelies). The rise and spread of early Christianity, too, is historical. Thus, the historical Jesus and the historical early church are properly studied against their historical and cultural backgrounds (Barnett, 1999:47). Die kennis van die gebeurtenisse van hierdie tyd is van groot nut, omdat dit 'n weier geografiese beeld en ook die land se politieke toestand uitlig. Natuurlik is dit ook 'n groot bron wat gebruik word om die verskeie denkrigtings van Israel in die tyd van Jesus Christus te bepaal. There are few men but in a dim way and at odd moments are curious to understand something of the vaster forces and currents on which they find themselves carried, and all the men of their generation carried, into unknown gulfs of time. 7
Behind the individual lives which flicker and vanish, there seem to be greater permanent entities engaged in secular conflict races, types, ideas, through all the pains and passions of men... ( Bevan, 1921:11). Die vernaamste denkrigting was die Hellenisme, wat na die regering van Aleksander die Grote, Israel binnegestroom het (Barnett, 1999:48). 3. Invloedryke gebeurtenisse en denkstrome voor Christus se koms 3.1. Aleksander die Grote en Hellenisme Met die term Hellenisme 1 word die invloed van Griekse spraak, denke en kultuur op ander volke bedoel. Die tyd na die dood van Aleksander die Grote tot en met die eerste paar eeue na Christus, staan as die Hellenistiese periode bekend (Anon., 2011:1). In 538 word Babel deur Kores, die koning van Persië verower, wat beteken die volk Juda is uiteindelik uit Ballingskap verlos (Jesaja 45:1-25). Kores laat die volk toe om terug te keer na hul land van herkoms en hulle word toegelaat om hul stede te herbou ( Vosloo & van Rensburg, 1993:1354). In die vierde eeu voor Christus, dit wil sê in die jare 300vC, het Aleksander die Grote, koning van Macedonië, deur middel van briljante militêre veldslae die Persiese ryk verower (Barnett, 1999:48). Sy regering het beteken dat die Griekse kultuur die verowerde grondgebied sou beïnvloed (Grant, 1962:83). In 323 sterf Aleksander en sy ryk word tussen vier generaals verdeel. Judea word nou deel van die generaal Ptolemeus se grondgebied, wat ook onder andere Egipte insluit (Grant, 1962:81-82). Tydens die Siriese Oorloë, verslaan Antiogus III in 198 die Egiptiese generaal Scopus by Paneas, bo Galilea. Dit beteken dat Judea nou deel uitmaak van die Seleukiede Ryk (Bevan, 1921:59-61). Die Ptolemeuse en Seleukiede regering het die verval van Judaïsme beteken:...it was the more subtle influence of Greek culture (Hellenism)...that most threatened Israel s covenantal loyalty to Yahweh her God (Barnett, 1999:48). Antiogus IV Epifanes, die derde seun van Antiogus III, word In 175 regeerder van die Seleukiede Ryk (Volkmann, 2012). In die jare wat hy regeer (175-164) doen hy alles in sy mag om die Griekse kultuur en instellings te bevorder. Antiogus IV streef daarna, meer as Aleksander die Grote, Ptolemeus en Antiogus III, om sy ryk te vergrieks (Volkmann, 2012). Epifanes se afdwing van die Hellenistiese kultuur, veroorsaak baie ontevredenheid. Hy het onder andere n beeld van die Griekse oppergod Zeus, in die tempel laat oprig (Volkmann, 2012). 1 Afgelei van έλληνίζειν, "om Grieks te praat," of "om Grieks te maak" (Anon., 2011). 8
3.2. Die Makkabeërs In 167, in die dorp Modin (ook Modeïn), dwing Epifanes se offisiere onder leiding van generaal Apelles, twee Joodse priesters om aan Zeus te offer (van der Watt & Tolmie, 2005). Mattatias, een van die priesters, wyer om te offer. Hy vermoor vir Apelles en ook sy medepriester wat wel die opdrag wou uitvoer. Gevolglik vlug hy en sy vyf seuns, Johannes Gaddi, Simon Tassi, Judas Makkabeus, Eleasar Awaran en Jonatan Apfus, saam met n paar ander Godvresendes die woestyn in (van der Watt & Tolmien, 2005). Volgens die apokriewe boek 1 Makkabeërs, het die Romeine hulle net daarna agtervolg. Die Romeine wou hulle op die Sabbat aanval. Aangesien die groep vlugtelinge egter geweier het om op die Sabbat terug te veg, het die vyand...hulle op die Sabbat aangeval en doodgemaak saam met hulle vrouens, kinders en beeste, altesaam 1000 mense (van der Watt & Tolmien, 2005). Hierna organiseer Mattatias n weermag, met sy seun Judas Makkabeus as generaal. Hulle behaal groot sukses. In 164 word die tempeldiens weer ingestel en Jerusalem se mure oorgebou ( Vosloo & van Rensburg, 1993:1355). Uiteindelik, na etlike jare se stryd, sou die Makkabeërs die mag van die Seleukiede breek. In 128 vestig Johannes Hirkanus die Hasmoniese Ryk,...die eerste eie Joodse staat sedert die val van Jerusalem in 586vC (Vosloo & van Rensburg, 1993:1355). Die term Makkabeërs beteken hamer of hamerslag. Dit was die oorspronklike bynaam vir Judas Makkabeus, maar het later die beskrywende term vir die geskiedenis van die bogenoemde Joodse opstand geword. Sommige bronne noem ook dat dit moontlik n י הו ה ( Here? akroniem was vir die Joodse oorlogkreet Wie onder die gode is soos u, o 2012). (Spiro,, Eksodus 15:11) כ מ כ המ י בּ א ל ם 3.3. Die Fariseërs Dit sou n deegliker studie wees om ook navorsing oor die Sadduseërs en Esseners te doen. Daar gaan egter vir die doel van hierdie werkstuk slegs verdere studie oor die Fariseërs gedoen word. Perhaps the most remarkable aspect of Hasideanism or Pharisaism is that so little is known about it (Finkelstein, 1972 :187). Daar is min ander religieuse bewegings wat sulke diep spore in die geskiedenis gelaat het, maar soos baie ander aspekte van die die tussen- Testamentêre periode, kan die ontstaan van die Fariseërs nie aan n spesifieke gebeurtenis of datum gekoppel word nie. Baie skrywers meen dat die Fariseërs ontstaan het in die tyd van Jonathan ( 3.2), die Makkabese hoëpriester, spesifiek omdat die bekende geskiedskrywer Flavius Josephus hulle in daardie konteks noem (Blank, 1998). Die Hellenistiese kultuur sou later selfs n houvas kry op die Hasmoniese Ryk ( 3.2), wat uiteindelik binne-in die samelewing die sekte van die Fariseërs tot gevolg het. 9
Ander bronne, hoewel in die minderheid, beweer dat die Fariseërs alreeds so vroeg as die vierde eeu voor Christus as n gevestigde groep bestaan het. Hierdie aanname word gemaak op grond van sekere geskiedkundige bronne wat noem dat daar reeds Fariseërs was wat die tetragrammaton 2 (die vier konsonante van Jahweh JHWH) in hul gebede gebruik het (Finkelstein, 1972:175). Vir die Fariseërs was gewildheid onder die volk n irrasionele doelwit in die lewe. Hulle sou soms onder sekere omstandighede verering en verheerliking aanvaar, maar historieseonsterflikheid was vir hulle nie net n illusie nie, maar ook sonde (Finkelstein, 1972:188). Hulle het hulself bo hierdie valse doelwitte gestel en nie net gestreef na die skyn van prestasie nie, maar werklike prestasie en nie net erkenning onder mense nie, maar erkenning van God self (Finkelstein, 1972:188). Juis omdat hulle eintlik nie gestreef het na gewildheid onder die mense nie, het hulle anonimiteit n pertinente simbool van hul toewyding aan God geword. Hulle het hulself beskou as die afgesonderdes (daarvandaan ook die naam Fariseërs). Ironies genoeg, sou hulle later so streef na erkenning van God, dat hulle n sekte geword het wat God al hoe meer begin miskyk en hul eie wette nagestreef het (Blank, 1998). n Kenmerkende teologiese denkwyse wat oor die algemeen nou verbind word aan die Fariseërs, is wettisisme of toewyding aan die Tora (wet). In die tyd van die ballingskap, toe die volk van die tempel verwyder is en ook tydens die onderdrukking van Antiogus IV Epifanes ( 3.1), het die Tora die plek van die tempel ingeneem. Baie mense, nie noodwendig net die Fariseërs nie, het só in wettisisme verval (Vosloo & van Rensburg, 1993:1359). 3.4. Romeinse verowering Met die oog op 4, gaan hier slegs die belangrike elemente van die Romeinse invloed op Palestina genoem word. Palestina word in die jaar 63vC verower deur die Romeinse generaal Pompejus (Pompeius). Hy stel Hirkanus II as regeerder aan, maar in 57vC word sy mag beperk tot die tempel (Vosloo & van Rensburg, 1993:1355). In 40vC volg Antigonus vir Hirkanus II op, maar word in 37vC deur die Romeine tereggestel (Vosloo & van Rensburg, 1993:1355). Herodus, uit die nageslag van Esau (Genesis 25:25), word na die dood van Antigonus as regeerder oor Judea en Galilea aangestel. Herodus sou aanhou om die Hellenistiese kultuur te bevorder, aangesien hy in keiser Augustus se guns wou bly. In die tyd wat hy regeer, 37-4vC, herbou hy die tempel en lê ook die stad Sesarea aan. Die Fariseërs het hom as koning verwerp (Vosloo & van Rensburg, 1993:1355). 2 Die tetragrammaton is gebruik, omdat hulle geweier het om die Naam van die Here uit te spreek. 10
Hy het na eie goeddunke hoëpriesters aangestel en afgedank, sodat die verantwoordelikheid van godsdienstigheid leiding later op die rabbi s gerus het. Teen die einde van sy regering, het hy baie ongewild geraak, onder andere weens sy Edomietiese afkoms. Daar het later selfs versetbewegings soos die sogenaamde Selote teen hom ontstaan. Daar was egter ook n groep aanhangers van Herodus, die Herodiane, wat die Romeinse bewind bevorder het. Die Herodiane was in direkte konfrontasie met die Selote en die Fariseërs ( 3.3) (Vosloo & van Rensburg, 1993:1355). 4. Die effek van die tussen-testamentêre periode op die wêreld van Christus 4.1. Die kindermoord as moontlike gevolg van Herodus se ongewildheid Reeds aan die begin van Christus se lewe op aarde begin Sy stryd. Soos in die voorafgaande paragraaf getoon, was Herodus teen die einde van sy bewind baie ongewild onder heelwat van die Jode. Dit is moontlik een van die redes waarom hy volgens Mattheus 2:16 en verder, al die kinders in Betlehem van twee jaar en jonger laat doodmaak het (Vosloo & van Rensburg, 1993:1355). 4.2. Die Herodiane en Fariseërs het Jesus as gemeenskaplike vyand In Markus 3:6 en 12:13 word min of meer dieselfde tema opgemerk, naamlik: Toe gaan die Fariseërs uit en hou dadelik raad met die Herodiane teen Hom, sodat hulle Hom sou kan ombring (Markus 3:6). Soos uit 3.4 aangetoon is, was die Fariseërs en die Herodiane aardsvyande. Tog is hulle bereid om saam te werk as dit die dood van Jesus Christus beteken. Die Herodiane, wat die Romeinse bewind bevorder, en die Fariseërs, wat die teenoorgestelde standpunt inneem staan saam teen die Koning van alle Konings, die Regeerder van alle tye. 4.3. Christus tree nie soos die Makkabeërs op nie In Mattheus 22:16 kom die Herodiane en die Fariseërs saam na Jesus met die vraag:...is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Weereens stel die Herodiane en die Fariseërs, ten spyte van hul fundamentele verskille oor hierdie vraag, vir Christus n strik. Hulle het verwag dat Jesus net soos die Makkabeërs ( 3.2), in opstand teen die keiser, sou weier om enigsins gehoorsaam te wees aan Herodus se wette. Dit sou natuurlik vir hulle rede verskaf om Christus om die lewe te bring. Jesus antwoord egter dit wat hulle nie verwag het nie:...betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom (Mattheus 22:21). 11
4.4. Die ontheiliging van die tempel word van Christus verwag Maar oplaas kom daar twee valse getuies en sê: Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en dit in drie dae opbou (Markus 14:58). Die Jode het klaarblyklik nie die uitspraak van Christus, naamlik dat Hy die tempel sou afbreek, reg verstaan nie. Dit het hulle moontlik veel eerder herinner aan die tyd van Antiogus IV Epifanes ( 3.1) wat in 167vC die tempel geplunder en ontheilig het (van der Watt & Tolmie, 2005:325). Boonop het Herodus onlangs (tussen 25 13vC) die tempel herbou ( Vosloo & van Rensburg, 1993:1355). Die belofte van Christus dat Hy dit weer sal afbreek het hulle so ontstel dat Hy uiteindelik gekruisig is. 4.5. Christendom en die Hellenistiese denkstrome Die Hellenistiese ( 3.1) denkstrome was 'n groot struikelblok vir die vroeë Christene (Barnett, 1999:48,49). Die stryd teen die Griekse filosofieë gaan aan die hand van die gebruik van die woord logos in Johannes 1:1 aangedui word. In die Hellenistiese tydperk, het die Griekse filosofie die term logos toegeskryf aan n rasionele, intillegente en daarom lewendmakende prinsiep van die kosmos (Hillar, 2005). This principle was deduced from an understanding of the universe as a living reality and by comparing it to a living creature. Ancient people did not have the dynamic concept of function, therefore, every phenomenon had to have an underlying factor, agent, or principle responsible for its occurrence (Hillar, 2005). Die Hebreeuse tekste van die Judaïsme is baie meer antropomorfisties van aard en ken aan die woord die betekenis van onder andere wysheid toe, asook onder andere die Seun van God. Die woord word ook meestal gebruik om die uitsprake of woorde (Woord) van God te beskryf (Hillar, 2005). Die gehelleniseerde Jood, Philo van Alexandrië (20-40nC), het n middeweg vir die betekenis van die woord logos tussen die Grieke en Jode se gebruik daarvan gesoek (Hillar, 2005). Uiteindelik sou die Logos verander van n metafisiese entiteit, na n uitbreiding of verlenging van n transendente en antropomorfistisie wese (Wese) (Hillar, 2005). Vandag bestaan daar duidelikheid oor die presiese betekenis van die woord. Die Hellenistiese invloede het egter groot struikelblokke vir die vroeë kerk in die weg gelê in terme van die verstaan van God se wese. 12
Die onderstaande tabel toon die radikale verskil aan tussen die Hellenistiese verstaan van die Logos en die hedendaagse verstaan daarvan, soos in die Afrikaanse Bybel: Griekse grondteks van Johannes 1:1 Hellenistiese verstaan van die Logos Ἐν ἀρχῇ ἦν ὁ λόγος, καὶ ὁ λόγος ἦν πρὸς τὸν θεόν, καὶ θεὸς ἦν ὁ λόγος Die Logos is n krag en n wet. Dit is n onweerstaanbare krag wat die hele kosmos tot n gemeenskaplike einde stuur en n onvermeidelike en heilige wet, waarvan niks kan ontsnap nie en wat elke redelike mens gewillig moet volg (Lebreton, 1996) 1933/ 53 Afrikaanse vertaling In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God Die Hellenistiese verstaan van die Logos was hoogswaarskynlik nie n vreemde gedagte vir die mense in die wêreld waarin Christus geleef het nie, aangesien die Hellenisme reeds n hoogtepunt bereik het teen die tyd wat Christus se bediening begin het ( 3.1). 5. Gevolgtrekking Eindelik kan die gevolgtrekking gemaak word, dat die sosio-historiese studie van die tussen- Testamentêre periode 'n skerper lig is, waarmee n mens op die wêreld waarin Christus geleef het skyn, wat heelwat politiese, kulturele en historiese feite uitlig wat in Jesus se tyd realiteit was. Die mees invloedryke denkstrome en gebeurtenisse was onder andere (soos uiteengesit in 3): die militêre verowerings van Aleksander die Grote wat die vereniging van verskeie volke en Hellenisme tot gevolg gehad het, die verdeling van Aleksander se ryk tussen die Ptolemeërs en Seleukiede, die Joodse opstand onder leiding van Mattatias en Judas Makabeus, die ontstaan van die Fariseërs een van die mees bekende sektes in die vroeë Christelike wêreld, wettisisme as n gevolg van die ballingskap en Antiogus IV Epifanes se verdrukking, Herodus se regering as spesifieke fokus van die Romeinse verowering en die ontstaan van die Selote en Herodiane. 13
Die Hellenisme was n besonder groot invloed op die Christendom en het 'n verskuiwing in die verstaan van God se aard en wese tot gevolg gehad. God laat egter nie die mens oor aan sy eie gedagtes en filosofieë nie, maar stuur Sy Seun om Hom te openbaar, selfs tot so n mate dat Hy op die Naam genoem kan word Vader, Seun en Heilige Gees. Die effek wat die tussen-testamentêre periode op die wêreld van Jesus Christus gehad het, is duidelik te sien in tientalle tekste uit die Sinoptiese Evangelies ( 4). Die politieke en kulturele spanning wat tussen-testamentêre tydperk veroorsaak het, was die oorsaak van Christus se kruisiging 'n duidelike bewys dat God alles so bestuur sodat Hy uiteindelik Sy raadsplan uitvoer. God het die politiese en kulturele situasie in die vierhonderd jaar voor Christus se koms so bestier, dat Christus juis in daardie omstandighede sy bediening sou begin en eindig. Die tussen-testamentêre periode is dan, ten diepste, vierhonderd jaar waarin God die wêreld gereedgemaak het vir die kerk se verlossing. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel. -Mattheus 26:64 14
BRONNELYS 1. ANON. 2011. Hellenism. (In Jewish Encyclopedia.com, http://www.jewishencyclopedia.com/articles/7535-hellenism.) 2. BARNETT, P. 1999. Jesus & the Rise of Early Christianity. VSA: InterVarsity Press. 448 p. 3. BEVAN, E. 1921. Hellenism and Christianity. Londen: George Allen & Unwin LTD. 275 p. 4. BLANK, W. 1998. Who where the Pharisees? http://www.keyway.ca/htm2002/pharisee.htm. 7 Mei 2012. 5. BYBEL. 1933. Die Bybel: dit is die ganse Heilige Skrif wat al die kanonieke boeke van die Ou en Nuwe Testament bevat. Kaapstad: Britse en Buitelandse Bybelgenootskap. 6. FINKELSTEIN, L. 1972. Pharisaism in the Making. VSA: KTAV Publishing House INC. 459 p. 7. GRANT, F.C. 1962. Roman Hellenism and the New Testament. Britanje: Hazell Watson and Viney LTD. 216 p. 8. HILLAR, M. 2005. Philo of Alexandria. http://www.iep.utm.edu/philo/#h11. 8 Mei 2012. 9. LEBRETON, J. 1996. The Logos. (In Catholic Encyclopedia, http://www.catholicity.com/encyclopedia/l/logos.html.) 10. RAMSUNDAR, P. s.a. Dating Christ s Crucifixion. http://www.biblicaltheology.com/research/ramsundarp01.pdf. 7 Mei 2012. Universiteit van Cambridge. (Verhandeling Ph.D.). 10p. 11. SAMUEL, R. 2012. What is social history? http://www.historytoday.com/raphaelsamuel/what-social-history. 7 Mei 2012. 12. SPIRO, K. 2012. The Revolt of the Maccabees. http://www.simpletoremember.com/articles/a/the_revolt_of_the_maccabees. 7 Mei 2012. 12. VAN DER WATT, J & TOLMIE, F. 2005. 1 Makkabeërs. (In van der Watt, J., red. Apokriewe Ou en Nuwe Testament, verlore boeke uit die Bybelse tyd. China: Christelike Uitgewersmaatskappy. p. 328-388.) 13. VOLKMANN, H. 2012. Antiochus IV Epiphanus. http://www.britannica.com/ebchecked/topic/28380/antiochus-iv-epiphanes. 7 Mei 2012. 14. VOSLOO, W. & VAN RENSBURG, F. J. 1993. Die tussen-testamentêre tyd. (In van Rensburg, F. J., red. Die Bybel in Praktyk. China: Christelike Uitgewersmaatskappy. p. 1354-1360.) 15